GÉNESIS 26

26
Isak in Gerar. Hy maak 'n verbond met Abiméleg. Huwelik van Esau.
1EN daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar.
2En die Here het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys.
3Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.
4En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word;
5 omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.
6So het Isak dan in Gerar gebly.
7En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou — anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien.
8En toe hy al 'n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou.
9En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor!
10En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy 'n skuld oor ons gebring het!
11Daarop gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word.
12Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die Here het hom geseën.
13En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was:
14hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.
15En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, dié het die Filistyne toegestop en met grond opgevul.
16Toe sê Abiméleg vir Isak: Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig geword.
17Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en daar bly woon.
18En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het.
19En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar 'n put met lewendige water.
20En die herders van Gerar het getwis met die herders van Isak en gesê: Dit is óns water. Daarom het hy die put Esek genoem, omdat hulle met hom onenigheid gehad het.
21Daarop grawe hulle 'n ander put, en daaroor het hulle ook getwis. Daarom het hy dit Sitna genoem.
22Toe het hy vandaar versit en 'n ander put gegrawe, en daaroor is nie getwis nie. Daarom het hy dit Réhobot genoem en gesê: Ja, nou het die Here vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land.
23Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba.
24En die Here het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.
25Toe bou hy daar 'n altaar, en hy het die Naam van die Here aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe.
26Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy leërowerste.
27En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het?
28Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die Here met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog 'n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons 'n verbond met jou sluit:
29jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die Here.
30 Toe berei hy vir hulle 'n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink.
31En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar 'n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek.
32Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat hulle gegrawe het, en sê vir hom: Ons het water gekry.
33En hy het dit Seba genoem. Daarom is die naam van die stad Berséba tot vandag toe.
34Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beëri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet.
35 En hulle was vir Isak en Rebekka 'n bitter verdriet.

Tans Gekies:

GÉNESIS 26: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid