ESÉGIËL 9

9
Kastydinge oor Jerusalem.
1DAARNA het Hy hardop voor my ore geroep en gesê: Kom nader, geregsdienaars van die stad, en elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand.
2En kyk, ses manne kom met die pad van die Boonste Poort wat na die noorde toe lê, en elkeen met sy wapen in sy hand om mee te verbrysel; en onder hulle een man wat met linne bekleed was, met 'n skrywer se inkpot aan sy heupe; en hulle het gekom en vlak by die koperaltaar gaan staan.
3En die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gérub waar dit op was, na die drumpel van die huis toe; en Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het.
4En die Here sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak 'n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word.
5Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie;
6slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom. En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.
7En Hy sê vir hulle: Verontreinig die huis en maak die voorhowe vol met mense wat verslaan word. Trek uit! En hulle het uitgetrek en geslaan in die stad.
8En toe hulle besig was om neer te slaan en ek oorgebly het, het ek op my aangesig geval en uitgeroep en gesê: Ag, Here Here, gaan U die hele oorblyfsel van Israel vernietig deurdat U u grimmigheid oor Jerusalem uitgiet?
9Toe sê Hy vir my: Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot, en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking; want hulle sê: Die Here het die land verlaat, en die Here sien nie.
10Daarom ook, wat My aangaan, my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal hulle wandel op hulle hoof laat neerkom.
11En kyk, die man wat met linne bekleed was, aan wie se heupe die inkpot was, het berig gebring en gesê: Ek het gedoen soos U my beveel het.

Tans Gekies:

ESÉGIËL 9: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid