EXODUS 36

36
1SO moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie die Here wysheid en verstand gegee het om met kennis al die werk tot vervaardiging van die heiligdom te verrig, dit maak net soos die Here beveel het.
2En Moses het Besáleël en Ohóliab geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie se hart die Here wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die werk te gaan om dit klaar te maak.
3En hulle het voor die oë van Moses ontvang al die offergawes wat die kinders van Israel vir die verrigting van die werk by die vervaardiging van die heiligdom gebring het. Maar húlle het vir hom nog elke môre vrywillige offergawes gebring.
4Toe het al die kunsvaardige manne wat met al die werk by die heiligdom besig was, man vir man, van die werk af gekom waar hulle mee besig was,
5en hulle het met Moses gespreek en gesê: Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan die Here die vervaardiging beveel het.
6Daarop het Moses bevel gegee, en hulle het 'n oproep deur die laer laat gaan en gesê: Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met die offergawe vir die heiligdom nie. Toe het die volk opgehou om te bring;
7want die boustof was vir hulle genoeg om die hele werk tot stand te bring; ja, daar het oorgebly.
Samestelling van die tabernakel.
8 SO het dan almal wat kunsvaardig was onder die werksmense die tabernakel uit tien tentdoeke vervaardig; uit fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk het hy dit gemaak.
9Die lengte van elke tentdoek was agt-en-twintig el en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke het een maat gehad.
10En hy het vyf van die tentdoeke aanmekaargewerk, die een aan die ander; en weer vyf tentdoeke het hy aanmekaargewerk, die een aan die ander.
11En hy het lissies van pers stof gemaak aan die soom van die buitenste tentdoek van die een stel; so het hy dit gemaak aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.
12Vyftig lissies het hy gemaak aan die een tentdoek, en vyftig lissies het hy gemaak aan die rand van die tentdoek wat aan die tweede stel behoort het. Die lissies was die een teenoor die ander.
13Hy het ook vyftig goue hakies gemaak en die tentdoeke saamgevoeg, die een aan die ander, met die hakies, sodat die tabernakel een geheel was.
14Verder het hy doeke van bokhaar gemaak as 'n tentseil oor die tabernakel: elf tentdoeke het hy dit gemaak.
15Die lengte van elke tentdoek was dertig el, en die breedte van elke tentdoek vier el: die elf tentdoeke het een maat gehad.
16En hy het vyf van die tentdoeke besonders aanmekaargewerk en ses van die tentdoeke besonders.
17En hy het vyftig lissies gemaak aan die soom van die laaste tentdoek van die een stel, en vyftig lissies het hy gemaak aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.
18Hy het ook vyftig koperhakies gemaak om die tent saam te voeg, sodat dit een geheel was.
19Ook het hy vir die tent 'n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle gemaak en daar bo-oor 'n dekkleed van robbevelle.
20 Hy het ook vir die tabernakel die regopstaande style van akasiahout gemaak.
21Die lengte van die styl was tien el, en anderhalf el die breedte van elke styl.
22Elke styl het twee tappe gehad wat met mekaar verbind was. So het hy dit gemaak vir al die style van die tabernakel.
23En hy het die style vir die tabernakel gemaak: twintig style aan die suidekant, na die suide toe.
24En hy het veertig silwervoetstukke onder die twintig style gemaak: twee voetstukke onder die een styl vir sy twee tappe en twee voetstukke onder die ander styl vir sy twee tappe.
25Hy het ook vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig style gemaak
26met hulle veertig silwervoetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die ander styl.
27En vir die agterkant van die tabernakel, teen die weste, het hy ses style gemaak.
28Ook het hy twee style vir die hoeke van die tabernakel aan die agterkant gemaak.
29En hulle was dubbel van onder, en net so was hulle bo dubbel tot by die eerste ring. So het hy dit gemaak vir altwee, vir die twee hoeke.
30So was daar dan agt style met hulle silwervoetstukke: sestien voetstukke; twee voetstukke onder elke styl.
31Hy het ook dwarshoute van akasiahout gemaak: vyf vir die style van die een sykant van die tabernakel
32en vyf dwarshoute vir die style van die ander sykant van die tabernakel; ook vyf dwarshoute vir die style van die agterkant van die tabernakel teen die weste.
33En hy het die middelste dwarshout gemaak om oordwars te loop, in die middel van die style, van die een ent na die ander.
34En hy het die style met goud oorgetrek; en hulle ringe, as plekke vir die dwarshoute, het hy van goud gemaak. Die dwarshoute het hy ook met goud oorgetrek.
35 Verder het hy die voorhangsel gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne; as kunstige werk het hy dit gemaak, met gérubs.
36En hy het vier pilare van akasiahout daarvoor gemaak en dit met goud oorgetrek; hulle kramme was ook van goud; en hy het daarvoor vier silwervoetstukke gegiet.
37Hy het ook vir die ingang van die tent 'n bedekking gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk;
38en die vyf pilare wat daarby behoort, met hulle kramme; en hy het hulle toppe en ringe met goud oorgetrek; en hulle vyf voetstukke was van koper.

Tans Gekies:

EXODUS 36: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid