AMOS 4

4
Die tweede strafrede: verskerping van die aanklag.
1HOOR hierdie woord, koeie van Basan, wat op die gebergte van Samaría is! Wat die armes verdruk, die behoeftiges hard behandel; wat aan hulle here sê: Bring aan en laat ons drink!
2Die Here Here het gesweer by sy heiligheid: Kyk, daar sal dae oor julle kom dat hulle julle met hake sal optrek en die wat van julle oor is, met vishoeke.
3En julle sal deur bresse in die muur uittrek, elkeen sonder om weg te kyk, en julle sal weggewerp word na Harmon, spreek die Here Here.
4Kom na Bet-el, en sondig! Na Gilgal, sondig nog meer! En bring julle slagoffers in die môre en julle tiendes al om die derde dag.
5En laat van wat gesuurd is, 'n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit, laat dit hoor! Want so is dit na julle sin, kinders van Israel, spreek die Here Here.
6Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.
7Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het;
8en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.
9Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.
10Ek het die pes onder julle gestuur, op die manier van Egipte; Ek het julle jongmanne met die swaard gedood saam met die wegvoering van julle perde; en Ek het die stank van julle laer laat opstyg, ja, tot in julle neus — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.
11Ek het julle omgekeer soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sodat julle soos 'n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.
12Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel — maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!
13Want kyk, Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die dageraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, Here, God van die leërskare, is sy Naam!

Tans Gekies:

AMOS 4: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid