Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe ontbied by die derde ingang van die huis van die HERE. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek gaan jou iets vra; moet niks vir my wegsteek nie!” Jeremia het egter vir Sedekia gesê: “As ek u inlig, sal u my nie sonder twyfel doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u tog nie na my luister nie!” Koning Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia 'n eed afgelê: “So waar as die HERE leef wat vir ons hierdie lewe moontlik maak: Ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!”
Toe sê Jeremia vir Sedekia: “So sê die HERE, die God van alle magte, die God van Israel, ‘As jy wel uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, sal jou lewe behoue bly, en hierdie stad sal nie afgebrand word nie. Jy en jou huisgesin sal leef. Maar as jy nie uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië nie, sal hierdie stad oorgegee word in die hand van die Galdeërs, en hulle sal dit afbrand. En jy, jy sal nie uit hulle hand vrykom nie. ’ ”
Toe sê koning Sedekia vir Jeremia: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs oorgeloop het, dat hulle my in hulle hand sal oorgee en dat hulle my sal martel.” Maar Jeremia het gesê: “Hulle sal u nie oorgee nie. Luister asseblief net na die stem van die HERE, na dit wat ek vir u sê! Dan sal dit met u goed gaan; u sal u lewe behou. Maar as u bly weier om uit te gaan, is dít wat die HERE my laat sien het: Kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, word uitgeneem na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, terwyl die vroue sê,
“ ‘Jou vertroude vriende het jou mislei
en die oorhand oor jou gekry.
Toe jou voete weggesink het in die slyk,
het hulle teruggetree.’
“Al u vroue en kinders gaan uitgebring word na die Galdeërs, en u self sal nie vrykom uit hulle hand nie, maar deur die koning van Babilonië sal u gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word. ”
Daarop sê Sedekia vir Jeremia: “Niemand mag van hierdie gesprek weet nie, anders sterf jy! As die hoë amptenare hoor dat ek met jou gepraat het en by jou kom en vir jou sê, ‘Vertel asseblief vir ons wat jy met die koning gepraat het. Moenie vir ons iets wegsteek nie, dan sal ons jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ dan moet jy vir hulle sê, ‘Ek het my smeekbede voor die koning gelê, dat hy my nie moet laat terugkeer na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ”
Al die hoë amptenare het toe na Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het hulle al hierdie woorde meegedeel, net soos die koning hom beveel het. Hulle het hom toe met rus gelaat, want die saak het nie rugbaar geword nie.
Jeremia het in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is.