Jeremia 16:1-13
Jeremia 16:1-13 AFR20
Die woord van die HERE het tot my gekom: “Jy mag nie vir jou 'n vrou neem nie, en jy mag nie seuns of dogters hê in hierdie plek nie.” Want so sê die HERE oor die seuns en dogters wat in hierdie plek gebore word, en oor hulle ma's wat hulle in die lewe bring, en oor hulle pa's wat hulle in hierdie land verwek: “Aan dodelike siektes sal hulle sterf, maar daar sal nie oor hulle gerou word nie, en hulle sal nie begrawe word nie. Hulle sal mis op die landerye word. Of hulle sal deur die swaard en hongersnood omkom, en dan sal hulle lyke kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde.” Ja, so sê die HERE: “Moenie 'n huis waar 'n begrafnismaaltyd gehou word, binnegaan nie; moenie daar ingaan om te rou nie, en moenie meegevoel met hulle betuig nie. Want Ek het my vrede aan hierdie volk onttrek,” is die uitspraak van die HERE, “my troue liefde en ontferming. Groot en klein sal sterf in hierdie land, sonder om begrawe te word. Mense sal nie oor hulle rou nie, en niemand sal homself stukkend kerf of sy kop kaal skeer vir hulle nie. Mense sal nie vir hulle brood breek by 'n rouseremonie om iemand te troos oor 'n dooie nie. Mense sal hulle nie laat drink uit 'n beker as troos oor 'n vader of moeder nie. “'n Huis waar fees gevier word, mag jy nie binnegaan om saam met hulle aan te sit om te eet en te drink nie.” Want so sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan in hierdie plek, voor julle oë en in julle lewensdae, die geluid van vrolikheid en vreugde, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, uitdoof. “ Wanneer jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak, sal hulle jou vra, ‘Waarom het die HERE al hierdie groot rampe oor ons aangekondig? Wat is ons sondeskuld en wat is ons sonde waarmee ons teen die HERE ons God gesondig het?’ Dan moet jy vir hulle sê, ‘Omdat julle voorouers My verlaat het,’ is die uitspraak van die HERE, ‘en agter ander gode aangeloop het, hulle gedien en voor hulle in aanbidding gebuig het. Hulle het My verlaat; my wet het hulle nie nagekom nie. En julle het julle nog slegter gedra as julle voorouers. Kyk, julle volg elkeen die verstoktheid van sy bose hart deur nie na My te luister nie! Ek sal julle dan wegwerp uit hierdie land na 'n land wat julle en julle voorouers nie geken het nie. Daar sal julle ander gode dien, dag en nag, want Ek sal nie deernis met julle hê nie.’

