Jeremia 11:18-23
Jeremia 11:18-23 AFR20
Die Here self het my ingelig, sodat ek kon weet. Toe het U my laat sien waarmee hulle besig is. Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie geweet dat dit teen my is wat hulle planne beraam nie: “Laat ons die boom en sy lewensap vernietig; laat ons hom afsny van die land van die lewendes, sodat sy naam nie meer onthou word nie.” Maar Here, Heerser oor alle magte, regverdige Regter wat hart en niere toets, laat ek u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak toevertrou. Daarom, so sê die Here oor die manne van Anatot wat jou lewe soek en sê, “Jy mag nie profeteer in die Naam van die Here nie, sodat jy nie deur ons hand sterf nie,” ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Kyk, Ek gaan van hulle rekenskap eis: Die jong manne sal sterf deur die swaard; hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger. Daar sal vir hulle niemand oorbly nie, want Ek bring onheil oor die manne van Anatot in die jaar waarin daar van hulle rekenskap geëis word.”


