Genesis 7:1-12

Genesis 7:1-12 AFR20

Die HERE het toe vir Noag gesê: “Gaan jy en jou hele gesin in die ark in; want in hierdie geslag het Ek net jou voor My regverdig bevind. Van al die rein diere moet jy vir jou sewe plus sewe neem – telkens 'n manlike een en sy maat; maar van die diere wat nie rein is nie, net twee – 'n manlike een en sy maat; ook van die voëls van die hemel sewe plus sewe, manlik en vroulik, om 'n nageslag lewend te hou oor die hele aarde. Want nog net sewe dae, dan gaan Ek dit laat reën oor die aarde veertig dae en veertig nagte lank. Ek sal alles wat bestaan, wat Ek gemaak het, van die aardbodem af uitwis.” Noag het toe gedoen net soos wat die HERE hom beveel het. Noag was seshonderd jaar oud toe die vloed, die waters, oor die aarde gekom het. Maar Noag, sy seuns, sy vrou en sy skoondogters saam met hom, het die ark binnegegaan voor die waters van die vloed. Van die rein diere en die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en alles wat op die grond kruip, het twee-twee die ark binnegegaan na Noag toe, manlik en vroulik, soos God Noag beveel het. Ná die sewe dae het die waters van die vloed oor die aarde gekom. In die seshonderdste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op daardie dag, het al die fonteine van die groot •oerwater oopgebreek, en die vensters van die hemel is oopgemaak. Daar was stortreën op die aarde, veertig dae en veertig nagte lank.

Video vir Genesis 7:1-12