Handelinge 27:1-12
Handelinge 27:1-12 AFR20
Toe daar besluit is dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes uitgelewer aan 'n centurio van die keiserlike kohort soldate met die naam Julius. Ons het aan boord gegaan van 'n skip uit Adramittium wat gereed was om na plekke langs die kus van Asië te vaar, en toe weggeseil. Aristargus, 'n Macedoniër uit Thessalonika, was saam met ons. Die volgende dag het ons by Sidon anker gegooi, en Julius het heel welwillend teenoor Paulus opgetree en hom toegelaat om na sy vriende te gaan en om hulle sorg te geniet. Van daar af het ons weggeseil, en omdat die wind teen ons was, het ons aan die beskutte kant van Ciprus verbygevaar. Nadat ons die oop see langs Silisië en Pamfilië oorgesteek het, het ons by Mira in Lisië aangekom. Daar het die centurio 'n skip uit Aleksandrië gevind wat na Italië vaar, en ons aan boord laat gaan. Vir 'n hele paar dae het ons maar stadig gevaar, en met moeite naby Knidus gekom. Omdat die wind ons nie toegelaat het nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta, by Salmone, verbygevaar. Nadat ons met moeite daarlangs verby beweeg het, het ons aangekom by 'n plek bekend as Mooi Hawens, wat naby die stad Lasea was. Aangesien heelwat tyd al verloop het, en dit gevaarlik geword het om te vaar – die Vasdag was immers reeds verby – het Paulus hulle gewaarsku deur vir hulle te sê: “Manne, ek sien dat die vaart skade en groot verlies sal meebring, nie alleen aan die vrag en die skip nie, maar ook aan ons eie lewens.” Maar die centurio het meer waarde geheg aan die stuurman en die skeepseienaar se oordeel as aan Paulus se woorde. Omdat die hawe nie geskik was vir oorwintering nie, het die meerderheid besluit om daarvandaan uit te vaar en om, indien moontlik, Feniks te bereik – 'n hawe in Kreta met 'n uitkyk op die suidweste en die noordweste – en daar te oorwinter.



