Johannes 8

8
1maar Jesus het na die Olyf-berg gegaan. 2Vroeg die volgende oggend het Hy weer na die tempel gegaan. Al die mense het na Jesus toe gekom. Hy het gaan sit en Hy het vir hulle geleer. 3Iemand het gesien 'n vrou pleeg egbreuk. Hy het dit vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs vertel. Hulle het die vrou na Jesus toe gebring en hulle het haar laat staan waar almal haar kon sien. 4Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, iemand het gesien hierdie vrou pleeg egbreuk. 5Die Wette van Moses sê ons moet vroue wat dit doen, doodgooi met klippe. Wat sê jy, wat moet ons doen?”
6Hulle het dit vir Jesus gevra, want hulle wou hê Hy moes iets sê wat verkeerd is, dan kon hulle Hom daaroor beskuldig by die Joodse Raad. Maar Jesus het gebuk en Hy het met sy vinger op die grond geskryf. 7Hulle het aangehou om vir Jesus te vra wat Hy dink hulle moet doen. Toe het Jesus opgestaan en Hy het vir hulle gesê: “As daar een van julle is wat nog nooit sonde gedoen het nie, dan moet hy haar eerste met 'n klip gooi!”
8Jesus het weer gebuk en Hy het op die grond geskryf. 9Toe die mense hoor wat Jesus sê, het hulle almal weggegaan. Die leiers het eerste weggegaan, en toe het die ander mense begin weggaan. Net Jesus het daar gebly en die vrou het nog voor Hom gestaan. 10Jesus het regop gestaan en Hy het vir die vrou gevra: “Mevrou, waar is die mense wat jou beskuldig het? Het iemand gesê die mense moet jou doodgooi met klippe?”
11Sy het gesê: “Nee, niemand nie, Here.”
Jesus het vir haar gesê: “Ek doen dit ook nie. Jy mag gaan, maar jy moenie weer die sonde doen nie.”]
Jesus is die lig vir die wêreld
12Jesus het weer met die mense gepraat. Hy het gesê: “Ek is die lig vir die mense van die wêreld. Elkeen wat My volg, sal nie in die donker loop nie. Hy sal die lig hê wat lewe gee.”
13Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Jy praat oor jouself. Ons kan nie glo wat jy oor jouself sê nie.”
14Jesus het vir hulle gesê: “Ja, Ek praat oor Myself, maar wat Ek oor Myself sê, is waar, want Ek weet van waar Ek kom en waarnatoe Ek gaan. Julle weet nie van waar Ek kom of waarnatoe Ek gaan nie. 15Julle kyk na mense se buitekant en dan oordeel julle die mense. Ek oordeel niemand nie. 16Wanneer Ek mense oordeel, dan oordeel Ek reg, want dit is nie Ek alleen wat oordeel nie. Dit is Ek en die Vader wat oordeel, die Vader wat My na die wêreld gestuur het. 17In julle wette is daar geskryf dat wanneer twee mense dieselfde sê oor iemand, dan is dit waar. 18En daar is twee wat dieselfde dinge sê oor My: Dit is Ek en die Vader wat My na die wêreld gestuur het.”
19Die mense vra toe vir Jesus: “Waar is jou vader?”
Jesus het gesê: “Julle ken My nie. Julle ken ook nie my Vader nie. Omdat julle My nie ken nie, ken julle ook nie my Vader nie.”
20Jesus het dit alles gesê toe Hy vir die mense by die dankoffer-kis in die tempel geleer het. Niemand het Hom gevang nie, want dit was nog nie sy tyd nie.
Die Jode kan nie kom waar Jesus gaan nie
21Jesus het weer met die Jode gepraat. Hy het gesê: “Ek gaan weg. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle is sondaars, en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie.”
22Die Jode het gesê: “Hy sê ons kan nie kom waar hy gaan nie. Wil hy homself doodmaak? Ons dink nie hy sal dit doen nie.”
23Jesus het vir hulle gesê: “Julle kom van die aarde, maar Ek kom van die hemel. Ja, julle is mense van hierdie wêreld, maar Ek is nie van hierdie wêreld nie. 24Ek het vir julle gesê julle is sondaars en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. As julle nie glo dat Ek God is nie, dan sal julle nog sondaars wees wanneer julle sterf.”
25Die Jode vra toe vir Hom: “Wie is jy?”
Jesus het vir hulle gesê: “Ek kan met julle praat, maar dit sal nie help nie. 26Ek kan nog baie ander dinge oor julle sê en Ek kan julle oordeel. Hy wat My na die wêreld gestuur het, doen reg. Ek vertel vir die mense van die wêreld alles wat Ek by Hom gehoor het.”
27Die Jode het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader in die hemel praat nie. 28Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle My, die Seun van die mens, aan die kruis opgehang het, dan sal julle besef dat Ek ook God is. Dan sal julle weet Ek, die Seun, doen nie self dinge nie. Nee, Ek sê net wat die Vader vir My geleer het. 29Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelos nie, want Ek doen altyd die dinge waarvan Hy hou.”
30Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het baie Jode in Hom begin glo.
Die waarheid maak mense vry
31Jesus het vir die Jode wat in Hom glo, gesê: “As julle glo en doen wat Ek sê, dan sal julle regtig my dissipels wees. 32Dan sal julle weet wat die waarheid is, en die waarheid sal julle vrymaak.”
33Hulle sê toe vir Jesus: “Ons is die nageslag van Abraham. Ons was nog nooit iemand se slawe nie. Hoekom sê jy ons sal vry word?”
34Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As 'n mens sonde doen, dan is hy 'n slaaf van die sonde. 35'n Slaaf bly nie altyd by die familie nie, maar 'n seun bly altyd een van die familie. 36As Ek, die Seun, julle vrymaak, dan sal julle regtig vry wees. 37Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat julle nie wil glo wat Ek sê nie. 38Ek sê vir julle wat Ek by mý Vader gesien het. Julle doen wat julle by júlle vader gehoor het.”
39Die Jode het vir Jesus gesê: “Abraham is ons vader.”
Jesus sê vir hulle: “As julle kinders van Abraham is, dan sal julle doen wat Abraham gedoen het. 40Maar nou wil julle My doodmaak, en dit is Ek wat vir julle die waarheid vertel het wat Ek by God gehoor het. Abraham het nie dit gedoen nie. 41Nee, julle doen dinge wat julle vader doen.”
Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is nie buite-egtelike kinders nie. Ons het net een Vader. Dit is God!”
42Jesus het vir hulle gesê: “God is nie julle Vader nie, want julle is nie lief vir My nie. Ek het van God gekom en Ek is nou hier by julle. Ek het nie self besluit om te kom nie. Nee, God het My na die wêreld gestuur. 43Hoekom verstaan julle nie wat Ek vir julle sê nie? Dit is omdat julle nie regtig wil luister na wat Ek sê nie. 44 Die duiwel is julle vader en julle wil doen wat hy wil hê julle moet doen. Van die begin van die wêreld maak die duiwel mense dood. Hy praat nie die waarheid nie, want hy weet niks van die waarheid nie. Die duiwel lieg altyd, hy kan niks anders doen nie. Hy lieg en hy laat mense lieg. 45Julle glo My nie, want Ek praat die waarheid. 46Kan een van julle bewys dat Ek 'n sondaar is? Nee, julle kan nie. Hoekom glo julle My nie wanneer Ek die waarheid praat nie? 47Iemand wat aan God behoort, luister na wat God sê. Julle luister nie na wat Hy sê nie, want julle behoort nie aan God nie.”
Jesus is ouer as Abraham
48Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is reg wanneer ons sê jy is 'n Samaritaan en dit is 'n duiwel wat jou so laat praat.”
49Jesus het gesê: “Nee, dit is nie 'n duiwel wat My so laat praat nie. Ek eer my Vader, maar julle eer My nie. 50Dit is nie Ek wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik nie. Dit is my Vader wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik. Dit is Hý wat mense oordeel. 51Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand doen wat Ek sê, dan sal hy nooit sterf nie.”
52Toe sê die Jode vir Jesus: “Nou weet ons dit is 'n duiwel wat jou so laat praat. Abraham het gesterf en die profete het gesterf. Maar nou sê jy as iemand doen wat jy sê, dan sal hy nooit sterf nie. 53Jy is nie belangriker as Abraham nie, en hy het gesterf. Jy is ook nie belangriker as die profete nie, en hulle het gesterf. Moenie dink jy is so belangrik nie!”
54Jesus het gesê: “Ek sê nie self Ek is belangrik nie, want as Ek dit sê, dan beteken my woorde niks. Die Vader sê Ek is belangrik, dié Vader vir wie julle sê: ‘Ons God.’ 55Maar julle ken nie die Vader nie. Ek ken Hom. Ek kan nie sê dat Ek Hom nie ken nie. As Ek sê Ek ken Hom nie, dan praat Ek nie die waarheid nie, soos julle. Nee, Ek ken die Vader en Ek doen wat Hy sê. 56Julle vader Abraham was baie bly toe hy gesien het dat Ek sal kom. Hy het dit gesien en hy was baie bly.”
57Die Jode het vir Jesus gesê: “Dit is nie waar nie. Jy het nie vir Abraham gesien nie. Jy is nog jonk, jy is nog nie 50 jaar oud nie.”
58Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is God, ook voordat Abraham gelewe het.”
59Toe het die Jode klippe opgetel om Jesus dood te gooi, maar Hy het stilletjies weggegaan uit die tempel.

Tans Gekies:

Johannes 8: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid