Prediker 1

1
1Hier is die dinge wat die Prediker gesê het. Hy was 'n seun van Dawid en hy was koning in Jerusalem.
Die dinge wat daar was, sal weer daar wees
2Die Prediker het gesê:
Daar is niks wat is soos dit moet wees nie, niks is soos dit moet wees nie.
3'n Mens werk hard, maar wat kry hy vir alles wat hy doen? Wat kry hy vir alles wat hy in hierdie wêreld doen? 4Mense lewe en mense sterf, maar die aarde is altyd daar. 5Die son kom op en die son gaan onder, en hy is haastig om weer te kom by die plek waar hy opgekom het. 6Die wind waai na die suide en dit draai na die noorde, dit draai en draai, die wind waai en dit hou nie op om te draai nie. 7Al die riviere vloei in die see in, maar die see word nie vol nie. Die riviere vloei altyd na dieselfde plek. 8Al die woorde wat daar is, is te min, 'n mens kan nie alles sê nie. Die oog kyk en hy hou nooit op om te kyk nie, die oor hoor en hy hou nooit op om te luister nie. 9Die dinge wat daar was, sal weer daar wees. Mense sal weer die dinge doen wat hulle altyd gedoen het. Daar is niks wat nuut is in hierdie wêreld nie. 10Wanneer iemand sê: “Kyk, hier is iets wat nuut is,” dan sê ek: Nee, dit was klaar daar voordat óns daar was. 11Niemand onthou wat lank gelede gebeur het nie, en die mense wat later sal lewe, sal ook nie onthou wat later gebeur het nie.
As jy baie weet, dan kan dit jou ook baie hartseer maak
12Ek, die Prediker, was koning van Israel in Jerusalem. 13Ek het hard probeer om met wysheid te kyk na alles wat die mense in hierdie wêreld doen, ek het probeer om dit te ondersoek. Dit is 'n swaar werk wat God vir die mense gegee het om te doen. 14Ek het gekyk na alles wat die mense in hierdie wêreld doen, en ek het gesien dat niks is soos dit moet wees nie, die mense jaag wind. 15'n Mens kan nie iets wat krom is, reguit maak nie, en jy kan nie iets tel wat nie daar is nie. 16Ek het gedink dat ek baie wysheid gekry het, meer wysheid as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het. Ek het baie wysheid gekry en ek weet baie. 17Ek het hard probeer om te verstaan wat wysheid is en wat dit is om dinge te ken. Ek het ook probeer verstaan wat dit is om nie wysheid te hê nie en 'n dwaas te wees. Ek weet nou dat almal wind jaag. 18Want wanneer jy baie wysheid het, dan is jy bekommerd oor baie dinge. As jy baie weet, dan kan dit jou ook baie hartseer maak.

Tans Gekies:

Prediker 1: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid