Amos 5:4-15
Amos 5:4-15 ABA
Ja, die Here sê vir die mense van Israel: “Julle moet vra wat Ek wil hê julle moet doen, dan sal julle lewe! Julle moenie in die stad Bet-El gaan vra nie, en julle moet ook nie na die stad Gilgal gaan nie. Julle moenie verder gaan na die stad Berseba nie. Die vyande sal die mense van Gilgal vang en na 'n ander land vat en hulle sal Bet-El verwoes.” Vra wat die Here wil hê, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, dan sal Hy 'n vuur na julle toe stuur om die Israeliete te brand. Daar sal niemand in Bet-El wees wat die vuur kan doodmaak nie. Julle doen nie reg aan mense nie, julle laat hulle baie swaar kry. Dit is die Here wat die sterre gemaak het, Orion en die Sewe-ster. Hy laat dit lig word ná die nag, Hy laat dit donker word ná die dag. Dit is Hy wat die wolke uit die see bring en wat dit laat reën op die land. Sy Naam is die Here. Die Here maak sterk mense vinnig dood. Hy laat sterk mure omval. Julle haat 'n man wat in die poort praat teen iemand wat verkeerd gedoen het, julle hou nie van 'n man wat die waarheid praat nie. Julle trap op die arm mens, julle vat sy koring. Daarom sal julle nie woon in die huise wat julle gebou het met die klippe wat julle so mooi gekap het nie. Julle sal nie die wyn drink van die mooi wingerde wat julle geplant het nie. Ek weet hoe baie en hoe groot julle sonde is. Julle is vyande van iemand wat reg doen. Julle vat die geld wanneer mense julle wil betaal om verkeerd te doen. In die poort is julle onregverdig met die arm mense. Dit is hoekom verstandige mense stilbly in hierdie tyd. Dit is 'n slegte tyd. Julle sê die Here is by julle. Maar julle moet probeer om goed te doen, moenie doen wat sleg is nie. Dan sal julle lewe, en dan sal die Here, die God wat oor alles regeer, by julle wees. Julle moet haat wat sleg is en julle moet lief wees vir wat goed is, julle moet in die hof reg doen aan mense. Miskien sal die Here, die God wat oor alles regeer, dan jammer wees vir julle, julle Israeliete wat nog lewe.


