SPREUKE 3

3
Vertrou op die Here
1My seun, moenie vergeet
wat ek jou geleer het nie.
Hou vas aan my opdragte.
2Dit sal jou lank laat lewe
en jou ’n voorspoedige lewe gee.
3Moenie dat jy tekort skiet
aan liefde en getrouheid nie.
Koester dit soos iets waardevols
wat jy om jou nek dra.
Skryf dit op die tafel van jou hart.
4Jy sal guns en ’n goeie naam verkry
by God
en by mense.
5Vertrou op die Here
met alles wat jy het.
Moenie staatmaak
op jou eie insigte nie.
6Vra na die wil van God
in alles wat jy doen.
Hy sal die regte pad vir jou wys.
7Moenie jou eie wysheid oorskat nie.
Hou eerder die Here voor oë
en vermy wat sleg is.
8Dit sal jou liggaam gesond hou,
jou lewe verkwik.
9Vereer die Here
met alles wat jy besit.
Gee vir Hom
die beste van jou oes.
10Hy sal jou opgaarplekke
vol maak.
Jou parskuipe sal oorloop
van al die wyn.
11My seun,
moenie dit verontagsaam
wanneer die Here
jou reghelp nie.
Moenie jou verset
wanneer Hy jou teregwys nie.
12Die Here bestraf immers
hulle wat Hy liefhet
net soos ’n pa
sy seun teregwys.
13Die mens wat wysheid kry,
is gelukkig.
Dit gaan goed met die mens
wat insig kry.
14Wysheid het meer voordele
as geld.
Haar beloning
is meer werd as goud.
15Wysheid het meer waarde
as edelstene.
Niks wat jy ooit kan begeer,
vergelyk daarmee nie.
16Met die een hand
gee wysheid ’n lang lewe.
Met die ander hand
rykdom en eer.
17Wysheid maak ’n mens gelukkig.
Wie dit volg, beleef vrede.
18Vir dié wat daaraan vashou,
is dit ’n boom van die lewe.
Hulle wat daarop steun,
is geseënd.
19Die Here het die aarde
met wysheid
op sy plek neergesit,
met insig die hemel oopgespan.
20Deur sy kennis het
water uit die diep fonteine geborrel
en het daar reën uit die wolke geval.
21My seun,
moenie takt en oorleg
uit die oog verloor nie.
Hou altyd daaraan vas.
22Dit sal jou lewe verryk
en eer en agting vir jou bring.
23Jou pad sal veilig wees.
Jy sal nie struikel nie.
24Jy sal kan gaan slaap
sonder om bang te wees.
Jy sal rustig kan bly slaap.
25Jy hoef nie bang te wees
dat teëspoed
jou skielik sal tref nie.
Die rampe
vir slegte mense bedoel,
sal nie oor jou kom nie.
26Die Here is jou beskermer.
Hy sal sorg dat jy nie
in ’n strik trap nie.
27Moenie wag om
goed te doen
vir iemand wat dit nodig het nie,
veral as dit vir jou moontlik is
om dit te doen.
28Moenie vir jou buurman sê:
“Gaan nou weg
en kom môre weer,
dan sal ek jou help,”
terwyl jy dit nou al
kon gedoen het nie.
29Moenie ’n plan beraam
teen iemand
wat vol vertroue
by jou woon nie.
30Moenie sommer rusie soek
met iemand
wat jou nie kwaad
aangedoen het nie.
31Moenie jaloers wees
op iemand
wat geweld gebruik nie.
Moenie ook maak soos hy nie.
32Die Here het ’n afkeer
aan skelms,
maar neem mense wat reg lewe,
in sy vertroue.
33Die vloek van die Here
rus op die huis
van die goddelose,
maar hulle wat opreg lewe,
seën Hy.
34Hy dryf die spot met mense
wat ander spot.
Hy is goed vir hulle
wat nederig is.
35Wyse mense word vereer.
Dwase mense
kom in die skande.

Tans Gekies:

SPREUKE 3: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid