SPREUKE 11

11
1Die Here haat ’n skaal
wat nie reg weeg nie.
’n Akkurate lesing
dra sy goedkeuring weg.
2Verwaandheid
bring vernedering.
Nederigheid bring wysheid.
3Die opregtheid
van eerlike mense
wys vir hulle die koers.
Die valsheid
van onbetroubare mense
bring hulle ondergang.
4Rykdom gaan niks help
op die dag van oordeel nie.
Om reg te lewe
sal jou red van die dood.
5Die gehoorsaamheid
van die opregte
maak sy pad gelyk.
Die goddelose
sal deur sy goddeloosheid
inmekaarstort.
6Die betroubaarheid
van eerlike mense
sal hulle red.
Onbetroubare mense
se eie gierigheid
sal hulle inhaal.
7’n Slegte mens gaan dood
saam met alles
wat hy begeer het.
Sy verwagtings
was net op sy eie mag gebou.
8God bevry die regverdige
uit sy nood;
Hy laat goddeloses
in daardie nood verval.
9Goddeloses vernietig mense
met hulle woorde.
Dié wat reg lewe, word
deur hulle kennis gered.
10’n Stad juig oor die voorspoed
van die regverdiges.
Dit jubel as goddelose mense
te gronde gaan.
11As opregte mense ’n stad prys,
bring dit voorspoed
vir die stad.
Die woorde van goddeloses
laat dit agteruitgaan.
12Om neerhalend
van ander te praat,
getuig van dwaasheid.
’n Verstandige mens
sal eerder stilbly.
13’n Geskinder lap geheime uit;
betroubare mense
bewaar geheime.
14Sonder goeie leiding
stort ’n volk in duie;
dit is veilig
om baie raadgewers te hê.
15Dit is gevaarlik
om vir ’n vreemdeling borg te staan;
dit is veiliger om daarvoor nee te sê.
16’n Deugsame vrou
verdien agting.
Gewelddadiges jaag na rykdom.
17’n Mens wat vrygewig is,
baat self daarby.
’n Wrede mens
vernietig homself.
18Goddeloses word skynbaar
gou ryk,
maar dit hou nie.
Die regverdige
sal ’n beloning kry
wat vir altyd hou.
19Lewe wag vir hulle
wat regverdig is.
Die dood wag vir hulle
wat agter kwaad aan is.
20Die Here het ’n afsku
aan agterbakse mense.
Hy is lief vir mense
wat onberispelik lewe.
21Slegte mense
sal baie beslis nie loskom nie.
Die nageslag
van die regverdiges
sal vrygespreek word.
22’n Mooi vrou
sonder gesonde oordeel
is soos ’n goue ring
in ’n vark se snoet.
23Die regverdiges wens altyd
vir die regte dinge.
Waarvoor die goddeloses wag,
bring net straf.
24Mense wat graag uitdeel,
ontvang altyd meer.
Daar is ander wat suinig is
en hulle word arm.
25Mense wat
’n ander iets gun,
het self altyd oorvloed.
Hulle wat ander se dors les,
is self altyd verkwik.
26Mense vervloek
selfsugtige mense
wat weier om koring te verkoop.
Hulle seën iemand
wat bereid is om te verkoop.
27’n Persoon geniet aanvaarding
as hy die goeie nastreef.
Kwaad haal die een in
wat daarop uit is.
28Iemand wat staatmaak
op rykdom,
kom juis tot ’n val.
Iemand wat reg doen,
floreer
soos groen blare aan ’n boom.
29Die een
wat in sy huis
ongelukkigheid bring,
sal naderhand die wind erf.
’n Onverstandige mens
word die slaaf
van iemand met wysheid.
30Iemand wat reg optree,
is soos ’n vrugbare boom.
’n Mens wat wys is,
red ander se lewens.
31As die regverdige
hier op aarde
kry wat hom toekom,
sal ook die goddelose
en die sondaar beslis
kry wat hy verdien.

Tans Gekies:

SPREUKE 11: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid