MARKUS 7

7
God se opdrag is belangriker as enige tradisie
1Op ’n dag het daar Fariseërs en sekere skrifkenners van Jerusalem af opgedaag om Jesus te konfronteer. 2Hulle het agtergekom dat party van sy dissipels nie die gebruiklike Joodse ritueel gevolg het om hulle hande voor ete te was nie.
3(In navolging van hulle voorvaderlike tradisie eet die Jode, en in besonder die Fariseërs, nie voordat hulle hulle hande deeglik gewas het nie. 4Net so eet hulle niks wat van die mark af kom as hulle nie eers hulle hande gewas het nie. Daar is ook nog baie ander tradisies waaraan hulle vashou – dinge soos die seremoniële reiniging#7:4a Grondteks wassing. van drinkbekers, kruike, bakke en eetbankies#7:4b Dit was gebruiklik om tydens feesmaaltye op hierdie bankies te lê. Ontbreek in sommige manuskripte..)
5Die Fariseërs en skrifkenners vra Jesus toe: “Waarom volg jou dissipels nie die tradisie van ons voorvaders nie? Hulle eet dan sonder om vooraf hulle hande seremonieel te was.”
6Hy het hulle geantwoord: “Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het dit raak gestel toe hy van julle geskryf het:
‘Hierdie volk eer My met hulle lippe,
maar hulle hart is ver van My af.
7Hulle godsdiens is blote skyn,
want hulle hou menslike dogmas
voor as wette van God.’#7:6-7 Jes 29:13.
8“Julle ignoreer God se opdrag en hou ten koste daarvan aan menslike tradisies vas.”
9Hy sê toe weer vir hulle: “Julle verstaan die fyn kuns om God se opdrag opsy te skuif sodat julle julle tradisie kan handhaaf! 10Moses het byvoorbeeld vir julle hierdie opdrag van God gegee: ‘Behandel jou ouers met respek,’#7:10a Eks 20:12; Deut 5:16. en: ‘Iemand wat sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.’#7:10b Eks 21:17; Lev 20:9. 11Julle sê egter dit is heeltemal in orde as iemand vir sy ouers sê: ‘Jammer, ek kan Pa en Ma nie help nie. Ek het alles waarmee ek vir Pa en Ma kon gehelp het, reeds aan die Here toegewy.’#7:11 Grondteks Enige voordeel wat Pa en Ma van my kon gekry het, is korban (dit is ’n gawe aan die Here).
12“So veroorsaak julle dat hy sy ouers heeltemal verwaarloos 13en verbreek julle God se opdrag ten gunste van julle tradisie. Dit is maar net een voorbeeld. Daar is baie meer.”
14Daarna roep Jesus die skare weer na Hom toe en sê: “Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê. 15Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie; wat uit jou uitgaan, dít is wat jou onrein maak.”#7:15 Sommige manuskripte het ook ’n vers 16 Elkeen wat kan hoor, moet goed luister.
17Toe het Jesus in ’n huis ingegaan om van die skare weg te kom. Daarna vra sy dissipels Hom uit na die bedoeling van sy stelling. 18“Verstaan julle dit nie? Begryp julle nie dat wat ’n mens eet jou nie onrein kan maak nie? 19Kos gaan nie na jou hart nie, maar na jou maag en gaan weer uit jou liggaam uit.” (Daarmee het Jesus gewys dat ’n mens enige soort kos mag eet.)
20En toe voeg Hy by: “Wat uit ’n mens uitgaan, dít is wat jou onrein maak. 21Want uit jou binneste, uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord, 22huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af. Dít is wat jou voor God onrein maak.”
Jesus reageer positief op die besondere geloof van ’n nie-Joodse vrou
24Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die omgewing van Tirus#7:24 Sommige manuskripte het ook nog en Sidon.. Hy het Hom in ’n huis teruggetrek en wou dit stil hou, maar dit was onmoontlik. 25Sommer gou het ’n vrou in wie se dogtertjie ’n onrein gees was, van Hom gehoor en voor sy voete kom neerval. 26Sy was ’n Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was. Sy het Jesus aanhou smeek om die bose gees uit haar dogter te dryf.
27Jesus sê toe vir haar: “Ek moet eers my eie mense, die Jode, help.#7:27 Grondteks Laat die kinders eerste eet. Dis glad nie mooi om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.”
28Waarop sy toe antwoord: “Here, die hondjies eet tog darem onder die tafel van die kinders se krummels.”
29“Uitstekend!” het Jesus vir haar gesê. “Omdat jy My so goed geantwoord het, kan jy maar huis toe gaan. Die bose gees het jou dogter verlaat.”
30Tuisgekom kry sy toe haar kind rustig op die bed lê, heeltemal gesond#7:30 Grondteks en die bose gees het haar verlaat..
Jesus maak ’n dowe man gesond
31Op pad terug van die omgewing van Tirus het Jesus oor Sidon en deur die Tien Stede-gebied#7:31 Grondteks Dekapolis. na die See van Galilea gegaan. 32Hulle bring toe ’n dowe man met ’n spraakgebrek na Hom toe en soebat Hom om sy hand op die man te sit om hom gesond te maak. 33Jesus het hom opsy geneem, heeltemal weg van al die mense af. Toe steek Hy sy vingers in die man se ore en smeer spoeg aan sy tong. 34Terwyl Hy na die hemel toe opkyk, sug Hy swaar en beveel toe: “Gaan oop!”#7:34 Grondteks Effata, dit beteken word geopen.
35Oombliklik kon die man hoor en normaal praat!#7:35 Grondteks Die binding van sy tong het losgeraak en hy het reg gepraat.
36Jesus het hulle toe opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie, maar hoe meer Hy by hulle daarop aangedring het, hoe meer het hulle dit oral vertel. 37Hulle was absoluut oorweldig.
“Hy het alles so wonderlik gedoen,” het hulle gesê. “Hy maak selfs dowe en stom mense gesond!”

Tans Gekies:

MARKUS 7: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid