LUKAS 24:36-51

LUKAS 24:36-51 NLV

Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle miskien iets te ete hier?” Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis. Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet. Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek nog saam met julle was, het Ek aan julle verduidelik dat alles wat in die wet van Moses en in die profete en die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.” Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan. Daarop het Hy gesê: “Só staan dit opgeteken: ‘Die Messias moet ly en op die derde dag opstaan uit die dood.’ En op grond van sy Naam moet bekering tot vergifnis van sondes aan al die nasies verkondig word. Julle moet by Jerusalem begin en van hierdie dinge getuig. “En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is.” Daarna het Jesus hulle uitgelei tot by Betanië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 24:36-51

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid