JOHANNES 17

17
Jesus praat innig met sy Vader
1Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. 4Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het.
6“Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer. 7Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom, 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het. 9Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is. 10Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik. 11Ek is nie langer in hierdie wêreld nie, maar hulle is nog in hierdie wêreld. Ek is op pad na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam wat U aan My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek nog by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar; dit is die Naam wat U aan My gegee het. Ek het hulle ook beskerm en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die één wat vir vernietiging bestem is, sodat die Skrif vervul sou word.
13“Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind. 14Ek het u boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. 15Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. 16Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid. 18Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur. 19En ter wille van hulle wy Ek Myself aan U toe sodat hulle ook deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid aan U toegewy kan wees.
20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in ’n hegte verhouding met My en Ek met U is; dat hulle ook in ’n hegte verhouding met Ons mag leef sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, ook aan hulle gegee sodat hulle een kan wees net soos Ons een is. 23Dit beteken dat Ek in ’n hegte verhouding met hulle en U met My moet leef, sodat hulle ten volle een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en dat U hulle liefhet net soos U My liefhet.
24“Vader, Ek wil graag hê dat dié mense wat U aan My gegee het, ook saam met My moet wees waar Ek is sodat hulle my heerlikheid kan sien, dié heerlikheid wat U aan My gegee het omdat U My voor die skepping van die wêreld liefgehad het.
25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekendgemaak en Ek sal dit nog verder bekendmaak sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle mag leef en Ek ook in ’n hegte verhouding met hulle mag leef.”

Tans Gekies:

JOHANNES 17: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid