1 KORINTIËRS 8

8
Hoe gemaak met vleis wat aan afgode geoffer is?
1Kom ons praat nou oor vleis wat aan afgode geoffer is – ’n saak waaroor julle ook navraag gedoen het. Ons weet julle sê: “Ons het almal kennis oor hoe ons moet optree.” Kennis laat ’n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ’n gemeente op. 2As jy dink jy weet alles, het jy nog nie die ware kennis nie. 3Maar as jy God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik.
4Wat dan die eet van afgodsoffervleis betref – wel, ons weet almal dat ’n wêreldse afgod eintlik een groot niks is en dat daar in werklikheid geen god is nie, behalwe die een ware God. 5Selfs al sou daar, volgens sommige, gode in die hemel en op die aarde wees – ja, daar is inderdaad baie wat “God” en “Here” genoem word –
6vir ons is daar net een God,
naamlik ons Vader
uit wie alles afkomstig is
en ons lewe is op Hom gerig.
En daar is net één Here,
naamlik Jesus Christus
deur wie alles bestaan
en deur wie ons lewe.
7Maar nie alle gelowiges besef dit nie. Party is daaraan gewoond om te dink ’n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas. 8Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as ons nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie. 9Maar wees versigtig dat jou vrymoedigheid om alles te eet nie jou medegelowiges met ’n sensitiewe gewete in hulle geloof laat struikel nie.
10Julle sien, dit kan maklik gebeur dat iemand jou sien aansit vir ’n ete in ’n afgodstempel. Omdat jy die nodige kennis het, besef jy daar is niks daarmee verkeerd nie. Maar gaan jy nie daarmee jou sensitiewe medegelowiges aanmoedig om teen hulle gewete in afgodsoffervleis te gaan eet nie? 11Dan gaan jou sensitiewe medegelowige#8:11 Grondteks broer. deur jou kennis verlore – iemand vir wie Christus sy lewe gegee het. 12So sondig julle teen Christus self wanneer julle teen julle broers en susters#8:12 Grondteks broers. sondig deur hulle sensitiewe gewetens te laat seerkry. 13Daarom – as iets wat ek eet ’n ander gelowige#8:13 Grondteks my broer. laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie. Ek wil nie aandadig wees aan die val van ’n medegelowige nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid