YouVersion Logo
Search Icon

Kolossense 3:12-17

Kolossense 3:12-17 DB

God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi. Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie. Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees. Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie. Jesus se boodskap moet in julle lewe wees wat ’n bouplan vir ’n bouer is. Dit moet die plan wees vir alles wat julle doen. Daarom moet julle nie tevrede wees voordat julle alles weet wat Jesus vir julle wil sê nie. Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie. Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy