MATTEUS 10:26-31
MATTEUS 10:26-31 Bybel vir almal (ABA)
“Julle moenie bang wees vir daardie mense nie. God is Koning, niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal dit sien en daarvan weet. Alles wat Ek vir julle in die geheim sê, moet julle vir almal vertel. Ek het baie dinge net vir julle gesê, maar julle moet op die huise se dakke staan en dit vir almal vertel. “Julle moenie bang wees vir mense nie. As hulle julle doodmaak, dan sal dit net julle liggame wees wat dood is. Nee, julle moet net vir God bang wees. As Hy julle in die hel laat brand, dan sal julle waarlik dood wees. “'n Mens kan twee mossies verkoop vir een sent. Hulle is baie goedkoop. Maar nie een van hulle val dood op die grond as julle Vader dit nie wil hê nie. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.”
MATTEUS 10:26-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke. En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.
MATTEUS 10:26-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
MATTEUS 10:26-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. “Word twee mossies nie vir 'n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ”
MATTEUS 10:26-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Vrees hulle dan nie, want daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie; en weggesteek, dit sal nie bekend word nie. Wat Ek vir julle in die duisternis sê, dit spreek julle in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig julle op die dakke. En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam in die hel kan verderwe. Word twee mossies nie vir 'n penning verkoop nie? en een van hulle sal nie op die grond val sonder julle Vader nie. Maar die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie, julle is meer werd as baie mossies.
MATTEUS 10:26-31 Die Boodskap (DB)
“Moenie toelaat dat mense julle op allerhande maniere probeer bangmaak nie. Leuens kan nie die waarheid in ’n bottel toeskroef en dit weggooi nie. Die waarheid sal uitkom vir almal om te hoor. “Wat Ek vir julle gesê het toe ons alleen was, moet julle vir almal gaan vertel. Ons het oor baie dinge hier onder ons gepraat. Dit moet nie net hier tussen ons bly nie. Die hele wêreld moet dit hoor. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens uit eerbied die bangste wees, vir mense of vir God? Onthou altyd, mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan niks aan jou siel doen nie. God kan jou liggaam en jou siel in die hel gooi. Dit is nou regtig iets om voor bang te wees! “Wat dink julle sal iemand vir ’n mossie wil betaal? ’n Paar sent miskien, of hoe? Al is hulle vir ons so min werd, gee God tog baie vir hulle om. Kyk net hoe sorg Hy vir hulle. Nou nog ’n vraag: Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? Ek hoef eintlik nie eens hierop te antwoord nie: God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Nou ja, as julle dit weet, hoef julle mos nie meer bang te wees vir wat mense aan julle kan doen nie. “Wees dus getroos, maar ook gewaarsku.
MATTEUS 10:26-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moenie vir hulle bang wees nie! Die tyd kom wanneer alles wat op die oomblik nog weggesteek word, aan die lig sal kom en alles wat nou nog geheim is, bekendgemaak sal word. Wat Ek vir julle vertroulik sê, vertel dit vir almal. En wat in julle ore gefluister word, basuin dit van die dakke af. Moenie bang wees vir hulle wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak; aan julle eintlike menswees kan hulle nie raak nie. Wees veel eerder bang vir Hom wat julle liggaam én eintlike menswees in die hel kan vernietig. Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie. Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel. Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.