PSALMS 119

119
U woord vergeet ek nie
1Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe,
dié wat wandel volgens die woord van die Here.
2Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam,
dié wat met hulle hele hart sy wil doen,
3geen onreg pleeg nie
en in sy weë wandel.
4U het u bevele gegee
dat dit ten volle uitgevoer moet word.
5As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly
en my aan u voorskrifte kan hou!
6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie.
7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem,
sal ek U loof met 'n opregte hart.
8Ek sal my aan u voorskrifte hou:
moet my tog nooit verlaat nie.
9Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou?
Deur hom te hou aan u woord!
10Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
12Aan U kom die lof toe, Here,
leer my u voorskrifte.
13Al u bepalings wil ek een vir een opnoem.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.
17Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe
en u woord gehoorsaam.
18Maak my oë oop
dat ek die kragtige werking van u wet ervaar.
19Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese:
laat my tog nie sonder u gebooie wees nie.
20Ek kwyn weg van verlange na u bepalings.
21U straf die hovaardiges,
die vervloektes wat van u gebooie afwyk.
22Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie,
want ek kom u verordeninge na.
23Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my,
ek sal my hou aan wat U neergelê het.
24U verordeninge is my vreugde,
hulle is my raadgewers.
25Ek verkeer in doodsgevaar,
gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het.
26Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak
en U het my gebed verhoor;
leer my u voorskrifte.
27Leer my hoe om u bevele uit te voer.
Ek wil van u magtige dade vertel.
28Ek kwyn weg van kommer,
skenk my krag soos U in u woord beloof het.
29Hou valsheid ver van my af,
wees my genadig, leer my u wet.
30Ek kies die betroubare pad,
ek lewe volgens u bepalings.
31Ek hou vas aan u verordeninge, Here,
moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie.
32Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam,
want U verryk my lewe.
33Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer,
sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou.
34Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam
en dit met my hele hart kan onderhou.
35Laat my wandel volgens u gebooie,
want daarin vind ek vreugde.
36U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê,
nie die begeerte om myself te verryk nie.
37Weerhou my van 'n nuttelose lewe,
laat my leef op die weg wat U aanwys.
38Vervul ook aan my die belofte
wat U gegee het aan dié wat U dien.
39Die venyn van mense, daarvoor is ek bang,
moenie dat dit my tref nie.
Maar u bepalings, dié is goed.
40Ek wil u bevele nakom.
Hou my in die lewe, want U is getrou.
41Bewys aan my u troue liefde, Here,
red my volgens u belofte.
42Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord,
want ek vertrou op u woord.
43Weerhou my tog van alles wat onwaar is.
In u bepalings stel ek my vertroue.
44Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou.
45My lewe sal veilig wees,
want ek vra steeds wat u bevele is.
46Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge
met vrymoedigheid aanhaal.
47In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig.
48Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig.
U voorskrifte sal my bybly.
49Onthou tog u woord aan my,
die woord waarop U my laat hoop het.
50Dit is my troos in my ellende:
dat u belofte my in die lewe hou.
51Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur,
maar van u wet het ek nie afgewyk nie.
52Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here:
dit gee my vertroue.
53Ontsteltenis het my oorval
oor die goddeloses wat u wet verontagsaam.
54U voorskrifte is vir my 'n lied
in my lewe hier op aarde.
55Selfs in die nag dink ek aan U, Here,
en is ek gehoorsaam aan u wet.
56Om u bevele uit te voer,
is vir my die lewe.
57Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here,
om u woord te gehoorsaam.”
58Ek smeek U met my hele hart:
“Wees my genadig, soos U beloof het.
59Ek het die koers van my lewe oordink
en na u verordeninge teruggekeer.
60Ek talm nie, ek haas my
om u gebooie te onderhou.”
61Die goddeloses wou my in hulle strikke kry,
maar ek het u wet nie verontagsaam nie.
62Selfs in die middel van die nag staan ek op
om U te loof vir u regverdige bepalings.
63Ek is 'n vriend van almal wat U dien
en u bevele gehoorsaam.
64Die aarde is vol van u troue liefde, Here.
Leer my u voorskrifte.
65U het aan my goed gedoen, Here,
soos U beloof het.
66Gee my goeie insig en kennis,
want ek stel my vertroue in u gebooie.
67Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal,
maar nou hou ek my aan u woord.
68U is goed en U doen goed;
leer my u voorskrifte.
69Hovaardige mense beswadder my,
maar ek voer u bevele uit met my hele hart.
70Hulle staan koud teenoor u wet,
maar ék verlustig my daarin.
71Dit is vir my goed dat ek swaargekry het,
want daardeur het ek u voorskrifte geleer.
72U wet is vir my kosbaarder
as 'n oorvloed van goud en silwer.
73Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm;
gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan.
74Dié wat U dien, is bly as hulle my sien,
want ek vertrou op u woord.
75Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is.
Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van u trou.
76Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde,
soos U my beloof het.
77Ontferm U oor my, dat ek kan lewe,
want ek verlustig my in u wet.
78Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom,
want hulle het my vals beskuldig;
u bevele bly my altyd by.
79Laat dié wat U dien en u verordeninge ken,
aan my kant wees.
80Laat my volledig by u voorskrifte bly,
sodat ek nooit raad-op sal wees nie.
81Ek smag na u redding,
ek vertrou op u woord.
82Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte
en vra: “Wanneer gee U tog vir my uitkoms?”
83Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook,
maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie.
84Hoe lank moet ek nog so lewe?
Wanneer straf U my vervolgers?
85Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie,
het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val.
86Op al u gebooie kan ek my verlaat.
Help my, want dié mense vervolg my sonder rede.
87Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn,
maar u bevele het ek nie verontagsaam nie.
88Hou my in die lewe omdat U my liefhet,
dan sal ek u onderwysing gehoorsaam.
89U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.
90U trou is van geslag tot geslag;
U het die aarde gemaak, en dit staan vas.
91Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas,
alles is aan U onderworpe.
92As ek my nie in u wet verlustig het nie,
het ek omgekom in my ellende.
93Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie,
want deur hulle het U my in die lewe gehou.
94Ek behoort aan U, red my,
want ek vra steeds wat u bevele is.
95Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig,
u verordeninge sal ek in ag bly neem.
96Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het,
net u gebod het geen begrensing nie.
97Hoe lief het ek u wet!
Dit bly my elke oomblik by.
98U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het,
en is altyd by my.
99Ek munt uit bo al my leermeesters,
want u verordeninge bly my by.
100Ek het meer insig as ouer mense,
want ek gehoorsaam u bevele.
101Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou
sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord.
102Van u bepalings het ek nie afgewyk nie,
want U het my dit geleer.
103Hoe aangenaam is u woord,
soeter as heuning in die mond.
104U bevele gee my insig,
daarom haat ek elke verkeerde pad.
105U woord is die lamp wat my die weg wys,
die lig op my pad.
106Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly,
om my aan u bepalings te hou;
hulle is regverdig.
107Ek ly swaar, Here,
hou my in die lewe, soos U beloof het.
108Neem tog my dank aan, Here.
Leer my u bepalings.
109My lewe is gedurig in gevaar,
maar u wet verontagsaam ek nie.
110Die goddeloses stel vir my 'n strik,
maar van u bevele wyk ek nie af nie.
111U verordeninge maak ek altyd my eie,
want hulle is vir my 'n vreugde.
112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer,
tot die einde toe.
113Ek haat huigelary,
maar u wet het ek lief.
114By U skuil ek, U beskerm my,
in u woord stel ek my vertroue.
115Gaan weg van my af, julle wat onreg doen;
ek sal aan die gebooie van my God gehoorsaam bly.
116Laat my vas staan soos U beloof het, dat ek kan lewe,
dat ek nie teleurgestel sal wees in my verwagting nie.
117Beskerm my, dan sal ek behoue bly
en u voorskrifte gedurig voor oë hou.
118U verwerp almal wat van u voorskrifte afdwaal;
met hulle ontrou mislei hulle hulleself.
119U verwyder al die goddeloses van die aarde af
soos waardelose skuim,
daarom het ek u verordeninge lief.
120Ek sidder van vrees vir U,
ek het diepe ontsag vir u bepalings.
121Ek het gedoen wat reg en regverdig is,
moet my tog nie oorgee aan die genade van dié wat my veronreg nie.
122Tree tog vir my in dat dit met my goed kan gaan,
moenie toelaat dat hovaardige mense my verdruk nie.
123Ek smag na die bevryding wat U bring,
na u woord wat my red.
124Handel met my volgens u troue liefde,
leer my u voorskrifte.
125Ek is u dienaar: onderrig my tog in u verordeninge.
126Dit is tyd dat die Here ingryp teen dié wat sy wet oortree.
127Ek het u gebooie liewer as goud, as fyn goud.
128Daarom leef ek nougeset volgens al u bevele
en haat ek elke verkeerde pad.
129U verordeninge is wonderlik,
daarom kom ek hulle na.
130Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig;
dit gee insig aan dié wat nog onervare is.
131Met my hele wese smag ek na u gebooie,
verlang ek daarna.
132Sien my in genade aan
soos U altyd doen vir dié wat u Naam liefhet.
133Laat u woord my op die regte pad hou;
moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie.
134Bevry my van veronregting deur mense.
Ek wil u bevele gehoorsaam.
135Verskyn tog tot my redding,
leer my u voorskrifte.
136My trane vloei sonder ophou
omdat die mense u wet nie onderhou nie.
137U is regverdig, Here,
wat U bepaal, is reg.
138In groot regverdigheid en trou het U u verordeninge uitgevaardig.
139Ontsteltenis verteer my
omdat my teëstanders u woord verontagsaam.
140U woord is baie suiwer,
ek het dit lief.
141Al is ek gering en verag,
u bevele verontagsaam ek nie.
142U is altyd getrou en regverdig,
u wet staan altyd vas.
143Al oorval angs en benoudheid my,
in u gebooie bly ek my verlustig.
144U verordeninge is altyd regverdig;
gee my insig daarin, dat ek kan lewe.
145Ek roep na U met my hele hart,
verhoor tog my gebed, Here,
ek wil u voorskrifte nakom.
146Ek roep na U, red my,
ek wil u verordeninge gehoorsaam.
147In die oggendskemer al roep ek om hulp
en stel ek my vertroue in u woord.
148Die hele nag lê ek wakker
en oorpeins ek u woord.
149Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my.
Laat u bepalings geld, hou my in die lewe.
150Dié wat my met soveel lis vervolg, kom steeds nader,
maar van u wet af bly hulle ver.
151U is by my, Here,
alles wat U gebied het, staan vas.
152Van lankal af weet ek van u verordeninge
dat U hulle altyd vas laat staan.
153Aanskou tog my ellende en red my,
want u wet het ek nie verontagsaam nie.
154Behartig tog my saak en bevry my,
hou my in die lewe volgens u belofte.
155Vir die goddeloses is daar nie uitkoms nie,
want hulle steur hulle nie aan u voorskrifte nie.
156U barmhartigheid is groot, Here,
laat u bepalings geld, hou my in die lewe.
157Ek het baie vervolgers en teëstanders,
maar van u verordeninge wyk ek nie af nie.
158Ek het die verraad van die ontroues gesien,
en dit het my met walging vervul dat hulle u woord nie gehoorsaam nie.
159Neem tog in ag dat ek u bevele liefhet, Here, hou my in die lewe omdat U my liefhet.
160Op u woord kan 'n mens hom geheel en al verlaat.
Al u bepalings is regverdig. Hulle staan vas.
161Maghebbers vervolg my sonder oorsaak,
maar u woord is die enigste wat ek vrees.
162Oor u woord is ek so bly
soos iemand wat 'n groot skat in die hande gekry het.
163Ek haat en verafsku leuens,
maar u wet het ek lief.
164Ek loof U soveel keer elke dag oor u bepalings.
Hulle is regverdig.
165Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid;
niks kan hulle laat struikel nie.
166Ek vestig my hoop op hulp van U, Here,
u gebooie gehoorsaam ek.
167Ek kom u verordeninge na,
ek het hulle baie lief.
168U bevele en verordeninge gehoorsaam ek.
My hele lewe lê oop voor U.
169Gee tog ag op my geroep, Here,
gee my insig soos U beloof het.
170Luister tog na my smeekgebed,
red my volgens u belofte.
171Die lof sal oor my lippe stroom,
want U leer my u voorskrifte.
172Ek sal u woord besing,
want al u gebooie is regverdig.
173Help my tog altyd,
want ek stel u bevele eerste.
174Ek smag na u hulp, Here,
in u wet vind ek my vreugde.
175Laat my lewe dat ek U kan loof,
laat u bepalings my steun wees.
176As ek sou ronddwaal
soos 'n skaap wat weggeraak het,
soek my dan,
want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.

Tans Gekies:

PSALMS 119: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid