NUMERI 13

13
Kanaän word verken
(Vgl. Deut. 1:19-25)
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.”
3Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete.
4Hulle was
Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben,
5Safat, seun van Gori uit die stam Simeon,
6Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda,
7Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar,
8Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim,
9Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin,
10Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon,
11Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, 'n Josefstam,
12Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan,
13Setur, seun van Migael uit die stam Aser,
14Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, en
15Geüel, seun van Maki uit die stam Gad.
16Dit is die name van die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken. Moses het aan Hosea seun van Nun die naam Josua gegee.
17Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. 18Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is, 19of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is, 20of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.”
Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe.
21Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af tot by Regob, by Lebo-Hamat. 22Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou.
23Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye. 24As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem. 25Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.
'n Meerderheids- en minderheidsverslag
26Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. 27Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. 28Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. 29Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.”
30Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”
31Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”
32Die manne het toe 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot. 33Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

Tans Gekies:

NUMERI 13: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid